Die afgelope 10 jaar het dramatiese invloede in sport plaasgevind, naamlik:
1) Regstellende aksie, aanvanklik met kwotas vir voorheen benadeelde gemeenskappe. Dit geskied op skole- en senior vlakke.
2) Kwotas word nie net op die sportvelde toegepas nie, maar op die administratiewe, organisatoriese en afrigtingsvlakke is dit eenvoudig polities d.m.v. getalle en aanvalle op die skuldgevoel van wittes afgedwing.
3) Beheer oor sport en ook die finansies wat daarmee saamgaan, het ‘n aantrekkingskrag geword vir beheer deur politieke mag.
4) Kwotas op die sportvelde het ‘n nuwe dimensie gekry in die vorm van transformasie. Transformasie het nog geen definisie gekry nie, maar die praktyk begin bepaalde betekenisse daaraan gee
4.1 “Indien twee spelers van verskillende kleur is
van wie een ‘n wit speler is en op dieselfde vlak is, sal die anderskleurige voorkeur kry”. Verw.: Omar Henry – Krieket in New Zeelandtoer .
4.2 Skoolsport moet transformeer tot meerderheids-verteenwoordiging van voorheen benadeelde groepe Verw.: USSASA se gewraakte skole sportbeleid Omsendskrywe 38/2003, die nuwe beleidstukke vir Sport 2005 en die verkiesingsdebakel van die Cravenweek in Julie 2004.
4.3 Sport op seniorvlak moet dringend
getransformeer word d.m.v. beoogde wetgewing vir 2005. Verw.: ANC-LP Lanval Reid in die Parlement tydens die bespreking oor hierdie saak: “I think it’s about time we start legislating, because these federations they just don’t want to come to the party. Bring out the quotes for white players. That’s the only way to readdress the situation”. Transformasie neem dus uitdruklik die vorm aan van “proporsioneel”. Dit beteken dat ‘n pad geloop word waar sportspanne op alle vlakke in die toekoms proporsioneel saamgestel sal word. Dit beteken maksimum 9% Blankes vir alle spanne – volgens die Blankes se verhoudingsgetal met ander groepe in die RSA. Dit is duidelik die aankondiging van mnr. Mbeki by die Oktober 2003 openbare rede oor sport in praktyk. “Sportspanne kan maar vir eers verloor solank hulle deur die proses groei na verteenwoordiging van alle bevolkingsgroepe van die nuwe Suid-Afrika”.
Sportprojek:
Wat van die toekoms van byvoorbeeld wit Afrikaanse sportlui? TABOK erken dat ander groepe hulle regmatige plek in sportspanne mag en moet inneem. Die feit dat “meriete” afgeskaf is, het hierdie transformasieproses verpolitiseer met omgekeerde diskriminasie teen wittes en veral die Afrikaner. TABOK het vervolgens begin met:
1) die ontwikkeling van ‘n akademiese sportstelsel op klubvlak vir Afrikaanse skole. Dit is ‘n stelsel parallel met die bestaande skole sportstelsel. Afrikaanse skole word d.m.v. ‘n privaatklub, deur ouers gedryf en bestaan uit die geledere van een of meer Hoërskole saam met sy voedingslaerskole. Hierdie model is nou vir 2 jaar by ‘n bepaalde Hoërskool getoets en na baie groeipyne het dit in 2004 posgevat met groot sukses. Dié klub ding tans in die plaaslike jeugliga mee. Die konsep berus op die wetlike magte en bevoegdhede in terme van Art. 21.1 (b) en (e) van die Skolewet wat alle buite-kurrikulêre aktiwiteite
- wat sport insluit - aan die
beheerliggaam gee. Dit is dus in die hande van die ouers. TABOK beywer hom vir ‘n veelvoud van klubs met ‘n eie streeks-, provinsiale en nasionale struktuur op meriete gebaseer, waar die Afrikanerkind ‘n regmatige geleentheid kan kry. Die stelsel word beoog om te groei na soortgelyke senior vlakke en word hier gekyk na die Australiese sportmodel.
2) die navorsing van ‘n moontlike Afrikaner Volkseie sportliggaam met ‘n Olimpiese model, naas NOCSA, waar die Afrikaner sy regmatige plek in die sportarena kan inneem. Daar word tans wyd geskakel met ander organisasies, Grondwetkundiges, sportkundiges en die Afrikanersportpubliek. Dit sal nog tyd neem om die model te vervolmaak, waarna dit gepubliseer sal word vir kommentaar en voorlegging aan ‘n beoogde sportkongres. Die uitgangspunt is dat sodanige sportstruktuur Grondwetlik gefundeerd moet wees en ‘n bydrae moet lewer om wyer geleenthede te skep wat sport vir alle groepe toeganklik maak op ‘n regverdige en billike wyse. Dit moet uiteraard ook positief bydra tot die begrip van en respek vir wedersydse behoeftes en gesonde uitbou van verhoudinge oor groepsgrense heen. In hierdie ondersoek word gekyk na modelle soos in die Verenigde Koninkryk waar vier afsonderlike nasionale/internasionale spanne soos Engeland, Skotland, Ierland en Wallis op bepaalde terreine afsonderlik deelneem in bv. rugby, sokker en krieket, asook die Maori’s wat reeds as etniese/nasionale groep
soortgelyke regte in rugby verkry het.
Ander projekte:
Naas TABOK se sportprojek is TABOK reeds besig met
1) ‘n TABOK-projek vir ‘n etos vir die Afrikaanse taal, kultuur en Christelike waardes vir 2 100 laerskole, 700 Hoërskole en 2 Universiteite;
2) ‘n TABOK-projek vir die herevaluering van die nuwe Skoolkurrikulum graad 0 – graad 12 ten einde aanvullings te doen vir meer aanvaarde internasionale standaarde met die skryf van Afrikaanse kernmateriaal daarvoor;
3) ‘n TABOK-projek vir meer Afrikaanse onderwysers wat ‘n mediese konsep met eenvormige salarisstruktuur vir onderwysers in diens van Afrikaanse Beheerliggame en ‘n eie pensioenskema vir hierdie en ander Tabok-lede; en
4) ‘n TABOK-projek vir ‘n Afrikaanse nasionale mediese fonds met behulp van die Vereniging van Afrikaanse Geneeshere.
Lidmaatskap:
TABOK het so pas met ‘n landswye lede werwingsprojek @ R25 per maand per lid begin ten einde bogenoemde projekte te help finansier. In die proses word ook gekyk na
addisionele voordele wat vir Taboklede by ‘n verskeidenheid instansies beding kan word. Kyk gereeld vir inligting op TABOK se webblad waar dit spesifiek onder voordele aangekondig sal word.
Kommentaar:
Kommentaar sal op
webmeester@navsfed.co.za verwelkom word.